Woensdag 03 Junie 2015

TERAPIE BY DIE GROOT SIELKUNDIGE



* Hierdie is die langer, ongeredigeerde weergawe van my 16 Oktober 2014 Kerkbode artikel "Bono, U2 en terapie by die Groot Sielkundige."

TERAPIE BY DIE GROOT SIELKUNDIGE




Die Ierse rockgroep U2 doen dit toe wéér: Hulle verstom die musiekwêreld deur hulle 13de album verniet aan 500 miljoen mense weg te gee! Met die hulp van Apple se iTunes word dit die grootste verspreiding van ’n album in die geskiedenis.

Die digter William Blake se bundel “Songs of Innocence and of Experience” voorsien die album-titel van die Ierse rockgroep U2 se 13e album "Songs of Innocence." Later in 2015 volg ‘n beloofde "Songs of Experience.”


Bono en kie neem ons op 'n musikale reis terug na die vroeë sewentigs van hul vormingsjare in Dublin. Dis ‘n brose, siels-ontblotende reis vóór hul rykdom (150 miljoen plus albumverkope) en roem (22 Grammy toekennings). Ons is 'n vlieg teen die muur terwyl Paul Hewson (Bono) sy hart teenoor almal wat wil luister en die Groot Sielkundige, Jesus Christus uitstort.

Bono ‘n Christen? Hoor sy geloofsbelydenis in ‘n 2005 onderhoud met Michka Assayas: “The point of the death of Christ is that Christ took on the sins of the world, so that what we put out did not come back to us, and that our sinful nature does not reap the obvious death…I'm holding out that Jesus took my sins onto the Cross, because I know who I am, and I hope I don't have to depend on my own religiosity.”

Songs of Innocence

Met kenmerkende eggo-kitare, polsende baskitaar, marsjerende dromme en passievolle stemme beleef ons liedere van onskuld met die opwinding van jeugdige ontdekkings, maar ook klaagliedere van verlore onskuld. In die eerste lied, "The Miracle" beleef ons die opwinding van die jong U2 se kennismaking met die musiek van die Ramones.


"Every Breaking Wave" word 'n huweliks-terapie sessie in 'n era van te maklik tou opgooi. "Are we so helpless against the tide?" vra Bono aan sy eggenoot van 32 jaar, Alison Hewson. En dan sy liefdesverklaring: "You know where my heart is, the same place that yours has been…”


Ons reis saam met Bono, The Edge, Adam Clayton en Larry Mullen jr vir die eerste maal na die opwindende "California" waar drome maklik begrawe word in die spieël van self-twyfel. Maar wat die jong dromers laat vasbyt is die wete "There is no end to LOVE!"

"Song for Someone" is 'n Psalm met biegwoorde wat diep tref: "I'm a long way from your Hill of Calvary and I'm a long way from where I was and where I need to be.”

In "IRIS (hold me close)” beleef ons die 14 jarige Bono se pyn nadat sy ma by sy Oupa se begrafnis sterf: "The ache in my heart is so much a part of who I am, I've got your life in me" sing hy in 'n besondere huldeblyk aan haar.


"Raised by Wolves" vertel die verskriklike verhaal van wat 'n paar blokke van Bono se huis op 17 Mei 1974 gebeur het: 33 mense sterf toe drie karbomme afgaan in Dublin.

Vanaf die bomtoneel stap ons saam in “Cedarwoord Road,” die “warzone” waar Bono groot geword het. Dié straat het hom geleer: "A heart that is broken is a heart that is open."

Die ontstellende “Sleep Like a Baby Tonight” is alles behalwe ‘n wiegeliedjie! Dis die verhaal van ‘n pedofiel-priester wat net vrede ervaar in sy drome: “In your dreams, everything is alright, tomorrow dawns like a suicide.” Die uitnodiging tot ‘n nuwe lewe kom alleenlik vir hul wat die leuens van die nag verruil vir die daglig van waarheid: “Where there’s no daylight, there’s no healing.”

Die elf liedere op hierdie album maak ons deel van U2 se lewensreis deur saam terug te kyk om met groter dankbaarheid en vasberadenheid vórentoe te leef. Bono sluit sy opstel in die album-notas só af:

“We can spend our whole lives searching for cohesion, and in not finding it, turn the world into the shape of our disappointment. Or not. There is no end to grief… that’s how I know there is no end to love.”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking